Friday, October 24, 2008

Tyd


Fisiese welstand

Die afgelope tyd is die morfien verhoog en is nou op 8; medikasie bly soos vantevore.


Hy is baie meer geswel oor sy bene en voete. Ook baie meer slaperig en bietjie deurmekaar. Agv die swelling kan jy nie gewigsverlies waarneem nie. Hy is pynvry en rustig, maar af en toe naar.

Geestelik

Enrique het vanoggend ’n helder oomblik gehad en my uit die bloute aan die arm gegryp en gevra: "Hoe gaan dit met jou, is jy bang?"
"Nee", was my antwoord, "die Heilige Gees is hier."

Toe sê hy: "Ek ook nie, ek het vrede.”

Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie, want U is met my. U stok en U staf die vertroos my.

In hierdie tyd kom die kwessie van tyd gedurig by my op. Daar is ’n hele paar vrae wat opduik wat die woord "tyd" bevat:
  • Het ons alles vir mekaar gedoen wat ons wou doen?
  • Het die Here ’n ander doel?
  • Wat lê in die toekoms?

Ek dink die rede waarom ek oor hierdie onderwerp praat, is omdat Enrique elke nou en dan vir my vra hoe laat dit is. Sy ervaring is dat die tyd onsettend stadig verbygaan. Ek weet nie waarom hy so voel nie, maar ek vra hom ook nie, want vir my is dit nie nodig nie.

Maar tyd: Wat ’n beweeglike onderwerp! Iets wat jy nooit kan laat stil staan nie, iets waarvoor ons onsself wil voorberei, wat ons onseker laat voel en iets wat ons laat met ‘n verskeidenheid emosies oor als wat in die verlede gebeur het. Ons praat van die tydsgleuwe: gister, vandag en môre, maar wanneer jy mooi daaroor dink is ek fisies net in die nóú.... nou.... nou...., soos wat die sekondes tik.

Maar die vraag wat ek vandag wil vra, is of tyd werklik iets fisies is en of dit nie dalk ’n persoon kan wees nie. Vreemde stelling wat ek maak. Onthou, ek kan verkeerd wees, maar dink net eers so ’n bietjie hieroor.

Ek weet dat God ’n begin vir alles gemaak het, en dat alles in ’n baie geordende ritme werk soos wat die kalender aanskuif, eeu vir eeu. Ek weet dat in die samelewing waarin ek en jy leef daar ’n sekere reeds bestaande sosiale patroon is. Hemelliggame is gegee om tyd te hou, menslike bioritmes – die natuurlike getik van honger en rus; ons het verskeie persoonlike behoeftes wat rondom dit alles aangepas word.

Maar in dit alles is daar vir my ’n baie duidelike onsienlike krag wat grense gestel het wat mense-hand, -beplanning of -beheer nie kan oorsteek nie. Dit is so duidelik, maar tog so onsienlik en geweldig kragtig, dat wanneer jy die lyn oorsteek, dit “hands off" is vir enige aardbewoner en hemelwese. Hierdie krag wil ek personifiseer. En ek noem Hom God. Hy het die posisie eintlik vir Homself toegeëien toe Hy gese het: “Ek is die groot Ek is.” Hy het Homself tyd genoem.

Hierdie grens wat ’n mens oorsteek gebeur gewoonlik onbeplan. In hierdie ruimte het jy net een van twee keuses: jy wil paniekerig probeer beheer, of jy besef dis hande in die lug (hands up). Jy het die ervaring dat jy in aanhouding staan teenoor die persoon wat hierdie tyd afgemeet het. Hy beroof jou, o ja, Hy beroof jou van jou als. Jou dagboek, jou horlosie, jou sienings, jou tyd, jou maskers, jou slimmigheid. Jy val op jou knieë. En alles ruk tot stilstand, soos ’n ou diesel-enjin wat in die nag doodruk.

Die dokter se nuus, skouers word opgetrek, die woorde: "Mev Matthee, ek is jammer”. Niemand het meer ’n plan nie. En die besef dat ek ongemerk die onsienlike grens oorgesteek het.

Dit is stil, vreemd. Ek was nog nooit hier nie. Hierdie pad het geen padtekens nie. Vir hierdie pad is daar geen leerlingbestuurder-handboek nie. Geen operasionele handleiding nie. Net die stilte. Jou spoed het so afgeneem dat die ge-in en ge-uit van mense, en stemme oor die foon die vorm van ’n byenes aanneem.

Ek steek my hand uit en raak aan iets wat die vorm van ’n hand aanneem. Ek neem die hand, dit maak toe. Ek is veilig. Vir die eerste keer in 5 maande is ek veilig. Iemand het die alarm afgesit; die tyd doodgemaak. Tyd het van gedaante verander, het ’n naam gekry, Iemand wat kan hoor en met wie ek kan praat. Die stilte het die gedaante van vrede. Hierdie hand, die Heilig Gees, vloei tot binne in my gemoed. Verwarm my, maak my gemaklik.

Nou die getik van die morfien monitor. Maar ék, ek is nie bang nie, want Hy wat in my is, is sterker as hy wat in die wêreld is. En Hy wat tyd is, staan langsaan my.

Enrique het nooit ’n idee gekry en net sommer opgetree nie. Wanneer enigiets in en rondom ons gebeur het, dan was hy stil. Ek sal dan later vra: "Maar wat gaan ons doen omtrent hierdie saak?" Sy antwoord: ”Ek weet nog nie, ek wag nog.” Maar wanneer die antwoord gekom het, kon jy maar agter hom inval. Want dan het jy geweet, ons gaan nou bewéég. Jy kan maar die handremme laat sak, want dit gaan vinnig wees.

Voordat hy nie ’n duidelike antwoord by die Here gekry het nie het hy nie ’n toon versit nie, en dit was altyd veilig.

My man het altyd tyd gemaak vir mense. Hy het tyd gemaak om tyd te spandeer. Of dit nou ontbyt of koffie was. Vir hom was tyd mense gewees.

Sy beste tydsbesteding was wanneer hy ander op ’n praktiese manier kon onderrig. Hy het tyd gemaak, sodat jy kon sien wat hy sien. En dit was Jesus, niks anders nie.

My man het altyd tyd gemaak vir my, elke dag. Na werk het ek en hy gesit en koffie gedrink en gesels oor ons dag se wedervaringe. Na agt wanneer die kinders gaan slaap het, het ons tee gedrink en gesels. Soggens wanneer ons opgestaan het, het ons die lewe bepeins, en een maal ’n week het hy my uitgevat en my bederf, maar dit was nooit duur nie – net ongelooflik lekker.

Die rede waarom ek nag en dag by sy bed bly, is omdat dit “pay back time" is. Hoe sal ek hom ooit kan dankie sê? Hy het my die Here help sien, en hy het my geleer om in hierdie lewe te lééf.

Groete

Leana

2 comments:

De Klerk Family said...

Liana,

Hoe mooi is die liefde tussen twee Godskinders nie. Jou jongste boodskap bring die volgende tot gedagte:

A Dream Within a Dream

Take this kiss upon the brow!
And, in parting from you now,
Thus much let me avow-
You are not wrong, who deem
That my days have been a dream;
Yet, if Hope has flown away
In a night, or in a day,
In a vision, or in none,
Is it, therefore, the less gone?
All that we see or seem
Is but a dream within a dream.

I stand amid the roar
Of a surf-tormented shore,
And I hold within my hand
Grains of golden sand-
How few! yet how they creep
Through my fingers to the deep,
While I weep- while I weep!
O God! can I not grasp
Them with a tighter clasp?
O God! can I not save
One from the pitiless wave?
Is all that we see or seem
But a dream within a dream?
(E. A. Poe)

Pro 15:17 Liewer ‘n porsie groente waar liefde by is, as ‘n vetgevoerde bees en haat daarby.

Sonnets from the Portuguese 43: How Do I Love Thee

How do I love thee? Let me count the ways
I love thee to the depth and breadth and height
My soul can reach, when feeling out of sight.
For the ends of Being and ideal Grace
I love thee to the level of everyday's
Most quiet need, by sun and candlelight.
I love thee freely, as men strive for right
I love thee purely, as they turn from praise
I love thee with the passion put to use
In my old griefs, and with my childhood's faith.
I love thee with a love I seemed to lose
With my lost saints, --I love thee with the breath,
Smiles, tears, of all my life! -- and, if God choose,
I shall but love thee better after death. (E. B. Browning)

1Co 13:8 Die liefde vergaan nimmermeer; maar profesieë—hulle sal tot niet gaan; of tale—hulle sal ophou; of kennis—dit sal tot niet gaan.

1Co 13:7 Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.

Joh 15:9 Soos die Vader My liefgehad het, het Ek julle ook liefgehad. Bly in hierdie liefde van My.

To My Dear and Loving Husband

If ever two were one, then surely we.
If ever man were lov'd by wife, then thee;
If ever wife was happy in a man,
Compare with me ye women if you can.
I prize thy love more then whole Mines of gold,
Or all the riches that the East doth hold.
My love is such that Rivers cannot quench,
Nor ought but love from thee, give recompence.
Thy love is such I can no way repay,
The heavens reward thee manifold I pray.
Then while we live, in love let's so persever,
That when we live no more, we may live ever. (A. Bradstreet)

Pro 3:3-4 Laat liefde en trou jou nie verlaat nie; bind dit om jou hals, skryf dit op die tafel van jou hart, dan sal jy genade vind en ‘n goeie insig in die oë van God en die mense.

1Co 13:12-3 Want nou sien ons deur ‘n spieël in ‘n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is. En nou bly geloof, hoop, liefde—hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde.

Ons is geseend om te kan deel in julle liefde en saamwees. Baie dankie. Ons dra julle in ons harte en in ons gebede.

Tit 3:15 Almal wat saam met my is, groet jou. Groet die wat vir ons liefhet in die geloof. Die genade sy met julle julle almal! Amen.

Lizette, Jan, JD & Robin

Wendy said...

Leana en Enrique

Dankie vir alles wat julle as herderspaar gedoen het. Julle energie en entoesiasme met die kinders is 'out of this world'. Julle is die voorbeeld wat almal moet volg.

Ek mis julle verskriklik en dink aan julle daagliks. My gebede is met julle en die kinders.

Liefde groete aan almal

Van Jaco en Wendy du Plessis