Thursday, October 16, 2008

Hospitaalnuus

Enrique se dae varieer tussen glad nie wakker met net nou en dan oë oop maak of glad nie wakker en oë vir 3 min oop maak. Sy pyn is heeltemal onder beheer danksy die flinke hospitaal personeel.

Daar is egalige swelling rondom sy buik area. Hy voel rustig, maar kan geen vloeistof of enige vorm van voedsel inneem nie. Hy is liggaamlik baie swak. Die morfien is nog dieselfde as voorheen; hy kry steeds iets vir naarheid. Vir my bly hy altyd mooi, en heerlik om te versorg. Daar heers 'n totale gevoel van sagtheid rondom hom.

Algemene nuus die afgelope 2 dae

Enrique se jongste broer het kom kuier van Middelburg. Wat 'n heerlike tyd het ons nou nie gehad daar rondom sy bed nie. Snaaks, 'n mens dink altyd dat rondom 'n siekbed alles en almal morbied en depressief is - ons het rondom hom gekuier, gelag en gesels. My algemene gevoel is: Waarom nou anders wees terwyl hy die lewe so spontaan beleef het en borrelende emosies in baie mense se lewens laat uitbruis het. Dit was natuurlik met sy toestemming ('n thumbs up gebaar met die duim) dat dit aanvaarbaar is.

Enrique en sy broers het sulke uiteenlopende geaardhede, maar die meeste van die tyd skerts hulle met mekaar juis oor hul andersheid.

Gister en vandag het Sunetjie twee onderste tandjies gesny. Sy en Aneleh bly by ouma en oupa.

Ek het gisteraand gou huis toe gegaan en al my goed gaan haal en saam met hom in die hospitaalkamer ingetrek. Ek bly nou saam met hom. Dit was op sy aandrang. Ek dink hy voel meer veilig. Ons sou hom aanvanklik huis toe geneem het, maar ons het dit uitgemaak dat ons eerder in hospitaal gaan bly omdat die versorging en geriewe die heel beste is

Hoe ons geestelik daar uitsien

Enrique het nie meer krag en energie om te lees nie. Ek en hy het besluit om die psalms van agter af te lees deur 3 maal per dag stiltetyd te hou. Ek lees en bid vir ons, en ons maak ook gebruik van geestelike musiek tydens ons aanbidding. Vandag het ons Ps 146 en 145 gelees en vanaand afgesluit met 144. As u dit goed dink om dit saam met ons te doen is dit baie welkom. Dit is vir ons 'n geweldige seen. Ons sou verkies dat lewensmaats probeer om dit hier en daar saam te doen so ver dit moontlik is, andersings kan julle een saam doen en die ander alleen. Maar ons wil u graag uitnooi om saam met ons die Here te soek.

Ons siening is dat dit God se wil is dat hy tot dusver 'n sterwenspad loop, maar ons gebed is gevul met die begeerte dat God in sy Goddelike genade tog Sy wil sal verander en ons sal begenadig. Ons is wel versigtig dat ons nie God sal manipuleer met die gedagte van "ons bid 3 keer" of dat die gedagte aangaande genesing rondom die siekte alles oorheersend moet wees nie, maar dat die fokus sal val op die wil van God wat Hy in sy groot Alwysheid in ons guns kan laat val.

Ons is teer bewus van die Heilige Gees, en geweldig versigtig om nie Sy teenwoordigheid binne te storm en voorstelle van genesing links en reg af te dwing nie, maar diep nederig uitgelewer aan Sy ontsaglike Goddelike genade, en ons staan pleitend met 'n oop gemoed voor Hom.

Ons glo steeds dat God die gewer is van alle goeie gawes.

Nou iets op ligter luim

Ek neem vrymoedigheid om die volgende te doen. Nie omdat ek ligsinnig is nie, maar seker omdat Enrique se lewe altyd 'n lewe was van opwinding en verrassings. Ver mense het hom altyd verkeerd geinterpreteer, maar naby mense het met groot vreugde sy energie geabsorbeer en was deel daarvan. Daarom wil ek met groot vrymoedigheid 'n paar interessanthede wat u nie geweet het nie rondom hom kwyt raak.

Het jy geweet?

Hy het geweier om aan my verloof te raak voordat die eerste reens nie geval het nie, omdat reen altyd vir hom 'n teken was dat hy die regte ding doen. Ek het eers gedink hy maak 'n grap, maar glo my ek moes toe wag vir die reen. Hy was nie bygelowig nie - as jy sou wonder. Vandat ek met hom getroud is is alle uitsonderlike besluite wat ons moes neem altyd deur gebed en reen voorafgegaan (scary, but it's true). Wel, God en Noag het dit gedoen!



Kan u glo dat ons 18 jaar gelede vir my verloofring en trouring R2000 betaal het en dit afbetaal het teen R125 per maand? Dit was baie geld vir toe, en nou is dit niks.

'n Laaste ding

Ek het vandag deur al ons fotos begin gaan en toe kom ek op hierdie foto af. Dit kom nou daarvan as jy met jongmense werk. Die foto is geneem op 'n stranddiens uitreik.

WAT SOU JY Sê IS VERKEERD MET HIERDIE FOTO?

(Ek wonder wat het daardie seun gedink) "Jiggie"?

Nou ja, ons sal weer verdere nuus gee oor 2 dae. Weer eens dankie vir gebede en bemoediging. Ons ervaar werklik die krag van jou gebed, ons het nie moed verloor nie. Hy se mos, Hy is die lelie van die dale.

Groete

Leana

7 comments:

Anonymous said...

Enrique ons bid vir jou, Leana vir jou ook, dis baie bemoedigend en inspirerend om te ervaar hoe die Here julle versterk en omvou met bande van liefde!

Louis Kriel

Anonymous said...

Beste Leana en Enrique, tot nou toe hou Wollie en Nellie ons op hoogte van lles daar by julle (hulle is wonderlike mense né?). Alhoewel ons julle nie ken nie bid ons graag vir Enrique en elkeen van julle wat naby aan hom is. Ons weet dat julle ook saam met ons die Koning van konings, die God van die heelal dien.....julle getuienis is SO sterk en groot! Dankie daarvoor.....julle sal nie weet wat dit vir ons beteken nie. Ons lig jou op na die genadetroon Enrique en vra God se wil vir jou lewe soos Hy dit in sy groot plan opgeteken het.......al verstaan ons dalk nie alles daarvan nie. Ons glo hy het jou bestem vir GROOT dinge (waarvan jy reeds so baie gedoen het!). Mag Hy jul krag en sterkte wees.
In Sy Lig
Elize en Jan-Adriaan

Jacoline said...

Leana & familie

Baie sterkte. Weet dat julle pal in ons gedagtes & gebede bly. God het 'n doel hoekom hy vir Enrique 'n passie gegee het om 'n boodskap te lewer vir 52 weke met die tema "om God te sien". Ons bly vertrou TOTDAT....
Liefde
Jacoline
nms EG Kerk Paarl gemeente

Anonymous said...

Enrique en Leana, die Heer is met julle. Lê alles voor HOM neer, voel SY liefde en nabyheid en vind kalmte en rus by HOM. HY laat julle nooit alleen.

Martha Potgieter

De Klerk Family said...

Leana,

Ons sal as gesin van vandag af (Sat. 18 Okt.) saam met julle die Psalms deurlees. Dit is 'n wonderlike manier van saamwees met julle al is ons so ver. Dankie vir die pragtige gedagte. David was 'n man na God se hart, wat 'n wonderlike voorbeeld vir ons.

Psa 118:4-7 Laat die wat die HERE vrees, dan sê dat sy goedertierenheid tot in ewigheid is! Uit die benoudheid het ek die HERE aangeroep; die HERE het my verhoor in die ruimte. Die HERE is vír my; ek sal nie vrees nie: wat kan ‘n mens my doen? Die HERE is vír my as my helper;

Isa 59:1 Kyk, die hand van die HERE is nie te kort om te help nie, en sy oor is nie te swaar om te hoor nie;

Ons deel in julle blymoedigheid en hartseer.

Baie liefde,
Lizette & gesin

Anonymous said...

Hi Leana

Ons dink aan julle. En bid ook elke dag vir julle almal, Enrique is gereeld in ons gedagtes.
Daar word net altyd met trots en liefde van hom vertel, julle is sulke wonderlike mense. Die twee dogtergjies is pragtig, julle is seker trots op hulle.
Se vir Enrique hy is gedurig in ons gedagtes en stuur groete en ons is baie lief vir julle.

Liefde
Chris, Marianka en Emille

Anonymous said...

Ons is dankbaar dat Enrique nou vir altyd gesond is.......dat hy by Ons Vader is, waar julle hom eendag weer sal ontmoet! Maar ons draa julle wat vir eers moes groet aan die Heer op vir berusting en vrede en dat Hy die mooi wat Enrique vir julle agter gelaat het altyd by julle sal hou.
Jan-Adriaan en Elize