Monday, November 17, 2008

En nou?

Leana het nog 'n paar gedagtes wat sy met julle wil deel.

Sy gaan hierdie week bietjie weg, maar beplan om weer iets te skryf wanneer sy terug is. So kom kyk gerus in die eerste week van Desember of daar weer iets gepubliseer is.

Monday, November 10, 2008

Begrafnisreëlings

Die gedenkdiens vir Enrique sal DV op Donderdag 13 November om 19:00 die aand gehou word te Corpus Christi, Hendrik Verwoerdrylaan, Panorama.

(Neem M14 Plattekloof Rd afrit van N1, ry noord met Plattekloof Rd in rigting van Panorama, en draai na ongeveer 250m by verkeerslig links in Hendrik Verwoerd. Corpus Christi is 500m verder aan die linkerkant.)

As u verdere navrae het kan u Radio Tygerberg skakel by 0861 104 104.

Friday, November 7, 2008

Verlossing

Enrique is gisteraand om 21:52 oorlede.

Dit het gereën.*

"Hy was nooit ongeduldig nie, selfs nie toe hy sterf nie" - Leana

Ek sal die begrafnisreëlings hier publiseer, sodra dit gefinaliseer is.


* Sien post "Hospitaalnuus" van 16 Oktober.

Wednesday, November 5, 2008

Materiaal

Fisiese welstand

Ek het voorheen gesê dit gaan nie goed nie, en ek het werklik nie geweet dit kan nog slegter gaan nie. Enrique praat glad nie: Is in die begin van ‘n ligte koma, is baie min wakker, maak net sy oë oop en toe. Maar hy is deeglik bewus van alles rondom hom. Morfien op 25 ml per uur. Sy vloeistof inname (dekstrose drip) is aansienlik afgebring agv die swelling.

Geestelik

Net stil. Ps. 40 is op dié stadium ons rots. Absolute vrede en rustigheid.

Die moderator, ds. Danie van Rensburg, het Dinsdag die 4de Nov vir ons kom kuier. Wat ‘n heerlike tyd het ons gehad met hom hier. Hy het ook iets waardevols met ons gedeel. Nadat ek vir hom genoem het dat ons die Heilige Gees hier ervaar het, het hy verwys na ‘n boek wat hy gelees het en gesê dat die hoof ding wat die Tempel besonders gemaak het nie die besonderse versiersels was, of die duur metale wat gebruik was nie, maar God se teenwoordigheid: En dit wat ons anders maak, is Sy teenwoordigheid. Hy het eintlik verwoord wat ons hier ervaar.

Materiaal

So ‘n rukkie gelede het ek ‘n interessante stuk materiaal by ‘n vriendin van my gekry. Haar man het dit van Indië af saamgebring. Maar, het ek nou gesukkel om vir hierdie lieflike stuk kunswerk ‘n nuttige plek te kry! Ek het dit oor die eetkamertafel gegooi, maar nee, iets is verkeerd; oor die bank, huh-oh; oor die badkamer gordynkap, maar tevergeefs. Nêrens wou hierdie stuk materiaal sy lêplek kry nie. Spoedig het die besef tot my deurgedring dat Indies en Afrikaans twee verskillende kulture is, elk met sy unieke smaak. Die twee sit glad nie langs dieselfde vuurtjie nie. Ons het toe amper ‘n krieket situasie hier, want ek weet toe nie meer of dit die Indiese kultuur is wat teen die Afrikaanse skreeu of andersom nie.

Die maak van materiale, asook invoer en uitvoer daarvan is reg oor die wêreld ‘n geweldige industrie. Die hele wêreld se oog is gekonsentreer op Europa – wat die ritme seisoen na seisoen hou met die mees modieuse, interessantste en soms potsierlikste uitrustings wat vroue verslawend deur glanstydskrifte laat blaai, impulsief na die klerewinkel dryf... Om maar net te besef dat ek nie hierdie lyf in daardie ou nommertjie kan maak pas nie.

Maar daar is materiaal wat nêrens op g'n mark te vinde is nie. Wat derduisende kos om te herstel. En wanneer dit kom by die instandhouding daarvan, menige vroue (en deesdae ook mans) aan die einde van elke maand platsak laat. Hierdie materiaal is beskikbaar in ‘n verskeidenheid van kleure. Dit is poreus en ongelooflik elasties. Sy “trade mark” is sy eie unike reuk. Ja, ek praat van niks anders nie as van die oorspronklike pakkie waarin ek en jy gebore is. Sommige noem dit ons Adamsgewaad. Ek noem dit sommer net my vel. Hierdie materiaal waarmee my en jou liggaam oorgetrek is, wat een van van die liggaam se 5 sintuie (jou tassintuig) bevat. Hierdie is die enigste materiaal wat gekoppel is aan ‘n brein en impulse kan ontvang van miljoene senu-eindpunte waardeur ‘n organisme soos die liggaam sy omgewing kan beleef. Man, dit is eenvoudig net WOW!

Maar ons is mos nie net ‘n liggaam nie, ek en jy het mos emosies ook. Soos iemand eendag kwytgeraak het: “Ek het mos ook ‘n binneste.” Deur aanraking word ons emosionele wêreld oorvloediglik gestimuleer. Bo en behalwe ander sensasies is die aanraking van iemand vir wie jy lief is ‘n onuitputlike bron van emosionele kompos. Dit voed jou tot in jou diepste wese, en dring jou om anderkant die grens van mensliewendheid op te tree. Dit dring jou om nie net een myl af te lê nie, maar duisende, nie net te beskerm nie, maar te omsingel, nie net te streel nie, maar te liefkoos en nie net aan te raak nie, maar te genees.

Wat is dit met aanraking, ‘n fisiese belewenis wat die siel aantas?

En dit het, gister en nou, want ek raak aan jou wat ek heel eerste liefgekry het. Die pyn van hierdie siekte het in fyn plooitjies op jou voorkop geskryf. Jou vel is ietwat droog. Ek buk af en soen jou. Jy ruik vir my soos jy, maar 'n bietjie medikasie, 'n bietjie hospitaal het ‘n stukkie van jou gesteel. Ek druk my lippe op jou voorkop. Dis effens koel en die volheid van my hart drup een klein druppeltjie op jou voorkop. "Ek is lief vir jou, jy weet dit" fluister ek, en jy knik jou kop stadig. Ek is jammer........ toemaar, ek is hier by jou. Ek vat aan jou hand, dis geswel, sag en warm. "As jy sleg voel... druk my hand" en jy druk liggies. Ek sug: “Ai.”

Ek het vir die kinders gaan kuier, en toe ek by my skoonouers se huis aankom het beide geslaap.

Ek het stil ingegaan by die eerste kamer. Jy lê op die dubbelbed. Die kamer is skemer en rustig, jy is wit, ligte pienk wangetjies, en jou mondjie maak impulsief suigbeweginkies. Ek klim saggies langs jou in en krul my op terwyl jou babalyfie teen my lê, die goue rooi haartjies is fyntjies, ek druk ‘n soentjie op jou koppie, dis donsig teer en klam, ek raak aan jou balletjie vuisie, 5 volmaakte duikies op die engeltjie handjie..........dis jy....... Sunétjie. Die sleutel gly, die slot draai, my hartkamer skuif oop, die intensiteit vir hierdie baba kind vloei.

Ek beweeg laer af na my volgende een. Sagte snorkgeluitjies vul die kamer. Jy lê op jou sytjie, koppie agteroor. My knie druk op die grond, die komberse teen my lyf, met my wysvinger skuif ek die krulletjie van jou voorkoppie weg, jy kriewel, my lippe streel jou wang, dis sag en blosend, jou mondjie ruik soet... Die sleutel, die slot, my hart, hoe dan anders?

Ek raak aan julle en julle raak my aan, hoe is dit moontlik sonder een van julle? Wie het die keuse gemaak? Wie het die toestemming gegee? Sou ek saamstem? Sou ek weerstand bied? Sou ek aanvaar?

Wat sou ek? ........... Ek weet nie........... Wat sou jy?

Tuesday, November 4, 2008

Dinsdagaand


Leana het al 'n ent gevorder met haar volgende post. Enrique se versorging is egter haar eerste prioriteit en dit laat nie baie tyd vir skryf nie.

Hier is solank 'n kort verslag van hoe dit fisies met Enrique gaan...

Die morfiendosis is verhoog na 25ml/h. Ek moet dalk verduidelik hoe dit werk - die morfien word met 'n soutoplossing gemeng en dan binneaars met 'n "drip" toegedien. Dit is dus nie 25ml suiwer morfien wat toegedien word nie.

Hy is steeds dikwels naar en gooi bloed op. Die swelsel is ook besig om vinnig te vererger. Kortom: Dit gaan fisies nie goed met hom nie.

Hou asb. aan om vir hulle te bid.

Enrique in "tipiese aksie" tydens 'n survivor kamp

Sunday, November 2, 2008

Sondagmiddag

Jammer vir die vertraging met die opdatering...

Enrique is nou baie swak, en kan bv nie meer self orent kom nie. Hy is dikwels naar en het dan hulp nodig, wat veroorsaak dat Leana baie min rus kry. Die morfiendosis is verder verhoog na 18. Hy is nie in 'n koma nie, maar agv die hoë dosis morfien selde werklik wakker.

Leana het weer 'n volledige "post" geskryf, maar die file het ongelukkig korrup geraak en kon tot dusver nie herwin word nie. Sy sal dit dus moet oordoen, maar is tans baie moeg omdat sy so min rus kry. Dit is onwaarskynlik dat haar update voor Dinsdag sal verskyn.
Ons sal die blog opdateer sodra Leana haar stuk geskryf het, of indien daar intussen 'n wesentlike verandering in sy toestand is.