Wednesday, October 29, 2008

Woensdagoggend

Enrique se toestand het verder versleg. Die morfien is tot 15 opgestoot. Leana sê hulle het 'n baie moeilike nag gehad. Sy klink uitgeput en sal waarskynlik nie vandag die blog opdateer nie.

Ek stel voor dat u haar nie kontak nie sodat sy bietjie kan rus, maar bid asseblief vir haar, Enrique en die kinders.

Monday, October 27, 2008

Aanraking



Die afgelope 2 dae het Enrique se toestand merkbaar versleg. Hy kla aanmekaar dat hy verskriklik sleg voel. Die morfien is vandag opgeskuif na 10 ml per uur. Hy voel ontsettend swak, en is opvallend naarder. Ek dink elke dag by myself dat dit darem maar ’n siekte is om mee rekening te hou. Maar genadiglik het die medici middele uitgedink om ’n pasiënt pynvry te kan hou.


Geestelike en Emosionele welstand

Enrique is glad nie moedeloos nie, maar vreeslik moeg vir hierdie aanhoudende pad. Hy sê ook vandag vir my: “Ek sien hoe ek self sterf in my liggaam elke dag.” Ek kan sien dat dit vir hom regtig vreeslik is. Hy sê elke nou en dan wanneer hy so verskriklik naar was: “Dankie, dat jy hier is.” Ek wil hier wees, want ons was nog altyd daar vir mekaar.

“HIERDIE PAADJIE IS WRAGTIE NIE VIR SISSIES NIE”

Geestelik is my woorde klaar..., op. Net die teenwoordigheid van die Heilige Gees. Wanneer ek my oë toemaak is Hy hier, wanneer ek rondloop in die kamer is Hy hier, wanneer ek die bemoedigende woorde op selfoon en blog lees, dan is Hy hier. Hy is letterlik oral. Baie vra: Maar kan ons jou nie aflos nie; is jy nie moeg nie? Hoe kan ek?

Daar is so baie fasette van woorde wat ons nie elke dag bewustelik oordink nie. Op die oppervlak lyk dit soos ’n klomp begrippe wat saamgevat is in ’n taal, en die gebruik hiervan word bepaal deur ons kultuur, ons agtergrond en die samelewing waarin ons onsself bevind.

Wat is dit met “woorde”? Waarom is dit so moeilik om net te “sê”, te “praat”, jouself uit te druk, dit uit te spreek? Dan is die anderkant ook waar: Waarom is dit so moeilik om jou mond te hou, stil te bly, eers te dink voor ek praat? Baie maal veroorsaak die woorde wat ek uiter ’n magdom reaksies, en wanneer jy weer kyk het hierdie klein lettertjies jou verraai, jou lelik in die steek gelaat. En al hul vingertjies wys na jou, jy is die een wat hulle gebruik het, of wat hulle wou gebruik, maar jy het nie. Jy weet jy moes, maar jy het nie. “Magtie!” Wie is hierdie geskrewe voorwerpies wat my lewe soms kompliseer en soms uit die moeilikheid uit help?

Wanneer ’n mens die lot onder die vergrootglas begin plaas kom jy af op 'n verskeidenheid van woorde wat sommer so ongesiens oor ons lippe spring, hul vleuels span en ’n vrye vlug neem deur telefoonkabels, agter bak hande, vanuit die kombuis na die kinderkamers. Oor skole-luidsprekers, in konferensiesale, deur satelliete en kan selfs op die maan gehoor word wanneer dit uit die ruimte weerklink: “Houston, we have a problem!"

Ons identifiseer hulle wel as Harde woorde, Sagte woorde, Wyse woorde, Skewe woorde, Opbouende woorde, Bedrieglike woorde... En daar is nog vele wat jyself kan byvoeg.

Hierdie woorde bestaan nie net uit herkenbare letters en lettergrepe nie. Nee, iewers het hulle ’n bepaalde waardesisteem, maar hoe swaar woorde nou eintlik weeg is moeilik om te bepaal. Word dit in tonne of milligramme geweeg? Dit is seker dié dat ons praat van gewigtige woorde, of iemand sê "maar daardie persoon is ligsinnig", of wanneer ek my hart uitgestort het, dit voel of ’n ton van my skouers af is.

Maar wanneer woorde enorme afstande aflê gaan dit my verstand te bowe. Woorde wat in ’n vorige eeu deur vername mense gespreek is, vind hul weerklank in die toekoms. Dit het die vermoë om my uitkyk op die toekoms met ’n paar grade te verskuif. Ek wonder tog hoe hulle dit reggekry het om dit uiteindelik op te vang. Het iemand op die regte tyd met die regte ingesteldheid hierdie waarhede neergepen met ’n griffel en ’n lei? Of hoe het dit nou eintlik gewerk? Hoe weet ons wat Augustinus en Luther gesê het? Hoe dit ook al sy, dit kom van ver en het die vermoë om nog verder te gaan.

Maar daar is woorde wat anderkant die letter lê. Iets wat die hart aangryp, wat hom laat smelt, wat hom laat oorgee.

Wanneer ons woorde tot ’n einde gekom het, en net voor jy die grens oorsteek na die ander kant vind jy hierdie woorde: “Ek weet nie wat om te sê nie.” Of soos Enrique die afgelope tyd gesê het: “Wat sê ons nou?” Hierna bevind jy jouself met ’n dialek wat anderkant lippetaal lê, wat ’n onherroeplike impak op jou siel maak. Dit is die woorde van aanraking. Hierdie taal kon nog nooit neergepen word nie, en ek gaan dit ook nie eers waag nie, maar dit is ’n sekere ervaring. Wanneer iemand hul hand op jou skouer plaas. Iemand jou teen hul vasdruk.



Maar tussen my en my man gebeur daar iets onuitspreekliks wanneer ons mekaar in die oë kyk; ons hande in mekaar laat gly. Dan vind daar ’n oortapping plaas van een hart na ’n ander. Wat alle tydsgrense oorskry. Wat hoogtes en dieptes bereik waarvoor daar nog nie afmetings uitgedink is nie. Wanneer tyd en afstand nie saak maak nie. En die gewig hiervan nie geweeg kan word nie. Die waarde nie geskat kan word nie, en geen woord of chirurg die hart ooit weer kan heel maak nie.

Woordelose emosie stroom oor jou wang. Ek het jou gekies uit menige ander. Ons moes saam oud geword het. Die tyd is so verkeerd vir my en jou. Ek is nie reg om ’n weduwee te wees nie, en jy is nie reg om te sterf nie. Ons woorde is klaar, maar die hande praat. Spreek onuitspreeklike woorde, wat geen bekende uit die verlede kon uitspreek nie en op hierdie aarde nog nooit gehoor is nie. Ek het my hart verloor op jou, jy weet dit, en jy sien dit.

Leana

Friday, October 24, 2008

Tyd


Fisiese welstand

Die afgelope tyd is die morfien verhoog en is nou op 8; medikasie bly soos vantevore.


Hy is baie meer geswel oor sy bene en voete. Ook baie meer slaperig en bietjie deurmekaar. Agv die swelling kan jy nie gewigsverlies waarneem nie. Hy is pynvry en rustig, maar af en toe naar.

Geestelik

Enrique het vanoggend ’n helder oomblik gehad en my uit die bloute aan die arm gegryp en gevra: "Hoe gaan dit met jou, is jy bang?"
"Nee", was my antwoord, "die Heilige Gees is hier."

Toe sê hy: "Ek ook nie, ek het vrede.”

Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie, want U is met my. U stok en U staf die vertroos my.

In hierdie tyd kom die kwessie van tyd gedurig by my op. Daar is ’n hele paar vrae wat opduik wat die woord "tyd" bevat:
  • Het ons alles vir mekaar gedoen wat ons wou doen?
  • Het die Here ’n ander doel?
  • Wat lê in die toekoms?

Ek dink die rede waarom ek oor hierdie onderwerp praat, is omdat Enrique elke nou en dan vir my vra hoe laat dit is. Sy ervaring is dat die tyd onsettend stadig verbygaan. Ek weet nie waarom hy so voel nie, maar ek vra hom ook nie, want vir my is dit nie nodig nie.

Maar tyd: Wat ’n beweeglike onderwerp! Iets wat jy nooit kan laat stil staan nie, iets waarvoor ons onsself wil voorberei, wat ons onseker laat voel en iets wat ons laat met ‘n verskeidenheid emosies oor als wat in die verlede gebeur het. Ons praat van die tydsgleuwe: gister, vandag en môre, maar wanneer jy mooi daaroor dink is ek fisies net in die nóú.... nou.... nou...., soos wat die sekondes tik.

Maar die vraag wat ek vandag wil vra, is of tyd werklik iets fisies is en of dit nie dalk ’n persoon kan wees nie. Vreemde stelling wat ek maak. Onthou, ek kan verkeerd wees, maar dink net eers so ’n bietjie hieroor.

Ek weet dat God ’n begin vir alles gemaak het, en dat alles in ’n baie geordende ritme werk soos wat die kalender aanskuif, eeu vir eeu. Ek weet dat in die samelewing waarin ek en jy leef daar ’n sekere reeds bestaande sosiale patroon is. Hemelliggame is gegee om tyd te hou, menslike bioritmes – die natuurlike getik van honger en rus; ons het verskeie persoonlike behoeftes wat rondom dit alles aangepas word.

Maar in dit alles is daar vir my ’n baie duidelike onsienlike krag wat grense gestel het wat mense-hand, -beplanning of -beheer nie kan oorsteek nie. Dit is so duidelik, maar tog so onsienlik en geweldig kragtig, dat wanneer jy die lyn oorsteek, dit “hands off" is vir enige aardbewoner en hemelwese. Hierdie krag wil ek personifiseer. En ek noem Hom God. Hy het die posisie eintlik vir Homself toegeëien toe Hy gese het: “Ek is die groot Ek is.” Hy het Homself tyd genoem.

Hierdie grens wat ’n mens oorsteek gebeur gewoonlik onbeplan. In hierdie ruimte het jy net een van twee keuses: jy wil paniekerig probeer beheer, of jy besef dis hande in die lug (hands up). Jy het die ervaring dat jy in aanhouding staan teenoor die persoon wat hierdie tyd afgemeet het. Hy beroof jou, o ja, Hy beroof jou van jou als. Jou dagboek, jou horlosie, jou sienings, jou tyd, jou maskers, jou slimmigheid. Jy val op jou knieë. En alles ruk tot stilstand, soos ’n ou diesel-enjin wat in die nag doodruk.

Die dokter se nuus, skouers word opgetrek, die woorde: "Mev Matthee, ek is jammer”. Niemand het meer ’n plan nie. En die besef dat ek ongemerk die onsienlike grens oorgesteek het.

Dit is stil, vreemd. Ek was nog nooit hier nie. Hierdie pad het geen padtekens nie. Vir hierdie pad is daar geen leerlingbestuurder-handboek nie. Geen operasionele handleiding nie. Net die stilte. Jou spoed het so afgeneem dat die ge-in en ge-uit van mense, en stemme oor die foon die vorm van ’n byenes aanneem.

Ek steek my hand uit en raak aan iets wat die vorm van ’n hand aanneem. Ek neem die hand, dit maak toe. Ek is veilig. Vir die eerste keer in 5 maande is ek veilig. Iemand het die alarm afgesit; die tyd doodgemaak. Tyd het van gedaante verander, het ’n naam gekry, Iemand wat kan hoor en met wie ek kan praat. Die stilte het die gedaante van vrede. Hierdie hand, die Heilig Gees, vloei tot binne in my gemoed. Verwarm my, maak my gemaklik.

Nou die getik van die morfien monitor. Maar ék, ek is nie bang nie, want Hy wat in my is, is sterker as hy wat in die wêreld is. En Hy wat tyd is, staan langsaan my.

Enrique het nooit ’n idee gekry en net sommer opgetree nie. Wanneer enigiets in en rondom ons gebeur het, dan was hy stil. Ek sal dan later vra: "Maar wat gaan ons doen omtrent hierdie saak?" Sy antwoord: ”Ek weet nog nie, ek wag nog.” Maar wanneer die antwoord gekom het, kon jy maar agter hom inval. Want dan het jy geweet, ons gaan nou bewéég. Jy kan maar die handremme laat sak, want dit gaan vinnig wees.

Voordat hy nie ’n duidelike antwoord by die Here gekry het nie het hy nie ’n toon versit nie, en dit was altyd veilig.

My man het altyd tyd gemaak vir mense. Hy het tyd gemaak om tyd te spandeer. Of dit nou ontbyt of koffie was. Vir hom was tyd mense gewees.

Sy beste tydsbesteding was wanneer hy ander op ’n praktiese manier kon onderrig. Hy het tyd gemaak, sodat jy kon sien wat hy sien. En dit was Jesus, niks anders nie.

My man het altyd tyd gemaak vir my, elke dag. Na werk het ek en hy gesit en koffie gedrink en gesels oor ons dag se wedervaringe. Na agt wanneer die kinders gaan slaap het, het ons tee gedrink en gesels. Soggens wanneer ons opgestaan het, het ons die lewe bepeins, en een maal ’n week het hy my uitgevat en my bederf, maar dit was nooit duur nie – net ongelooflik lekker.

Die rede waarom ek nag en dag by sy bed bly, is omdat dit “pay back time" is. Hoe sal ek hom ooit kan dankie sê? Hy het my die Here help sien, en hy het my geleer om in hierdie lewe te lééf.

Groete

Leana

Wednesday, October 22, 2008

Ver en naby


Fisiese welstand

Die afgelope tyd was dit baie besig hier by ons – Enrique se broers uit Gauteng het hier 'n draaitjie gemaak. Maar wanneer ek vir jou vertel hoe dit met Enrique gaan, dan moet ek sê was dit net so besig.

Op hierdie stadium is hy heelwat geswel (ook sy bene), maar hy ly nie lelik nie, hy lyk eintlik nou vir my mooi, omdat die afgelope tyd se gewigsverlies sy gelaat amper ontstellend baie verander het.

Hy is nog steeds dikwels naar, maar dis steeds onder beheer. Morfien staan tans op 6. Soos wat die dokter sê: “Ons groot doel is om hom gemaklik te maak sonder pyn, net eenvoudig rustig.”
Hy hallusineer ’n bietjie, en is minimaal wakker. Hy verstaan nog mooi, maar hou sy oë toe en knik net.

Geestelik

Ek lees vir hom wanneer dit net lyk of hy teenwoordig is. Neurie selfs ’n aanbiddingslied, bid dan vir ons albei en ons kinders.

Gebed: Bid vir sterwensgenade, dank ons Pa vir sy tasbare teenwoordigheid. Dat Hy altyd Iemand is wat ’n plan het, want ons het nie een nie. Dankie vir Sy vertroosting. Bid net omdat dit ’n wonderlike tyd is vir gebed, en omdat Hy ons so goed ken.

Baie dankie vir al u gebede, ek ervaar hoe gebedshande ons dra. Dankie vir almal wat ons webtuiste besoek en ook dankie vir al die boodskappies. Dit is vir my so ’n bemoediging. Ek lees hulle ook voor vir Enrique.

Uit die hart

Onthou: Uit die hart skryf ek sommer net rondom ervaringe wat ek beleef hier, maar terwyl ek so sit kom daar ook so baie dingetjies – eintlik mooi dingetjies – uit die verlede op, wat als hier die moeite werd maak. Hierdie mens het mos gelééf, dit is mos nie net ’n persoon wat sterwend is nie. Maar die klein dingetjies wat hy gedoen het, het my laat lag, en sommer baie ook. Dit was een van sy dagtake om my aan die lag te kry. Hy laat my steeds lag. Soms terwyl ek so luister terwyl hy hallusineer, sê hy nog steeds snaakse goed. Alles wat hy praat is eintlik aan my bekend. Ek herken sekere gebeure uit die verlede en dit bring ook nog herinneringe.

Enrique het elke dag vir my gese: “Onthou Leana, niemand gaan vandag aan jou voordeur kom klop en sê: 'Haai kyk, dit is ’n lekker dag' nie. Ons moet kies om te lag; dit kom nie vanself nie.”

Nou ja, vandag se stuk:

Om ver te ry, die langpad te vat, word deur almal verskillend geïnterpreteer. Lang paaie verg beplanning, en die beplanning hang baie af van vorige ervarings wat opgedoen is. Dit opsigself verander jou persepsie rondom hoe jy gaan beplan.

Die nuus aangaande ’n gever ryery word altyd in ons huis begroet met ’n gevoel van ekstase. Dit was nooit uitgeredeneer met Rand en sent nie. Ja dit ook, maar die eerste sin van die ver pad bespreking klink om en by so: “So, wat eet ons?”

"Ver" en "kos" is in ons gesin sinoniem. Maar die vraag van hoe ver is nou eintlik ver kom nooit op nie, want alles buite ’n radius van 50 km is ver genoeg.

Dan praat ons nie van “Take aways” nie. Eers word daar ’n lys opgestel en winkel toe gegaan. En uiteindelik is die mandjie gelaai. Iets ligs om aan te peusel. Die hoofmaal sien so daar uit (net vir kennisname, dis Enrique se resep en niks anders. Ek het klasse gekry in die maak van die ding. En vir die wat hom goed ken – dit was gedoen in detail): “Vat ’n vars bun, smeer botter op, nie margarien. Plaas 3 pasgebraaide, nie afgekoelde visvingers daarop. Smeer vinnig Miracle Whip bo-op, draai blitsig toe in Glad Wrap. Pak in.

Nou dit is absoluut teen die norm van broodjies insit. Toe ek hom nou vra waarom hy niks laat afkoel nie, was sy respons: “Kos wat nta-nta maaak op jou tong is altyd lekker, dit gaan oor die gevoel.” Wie's ek om te stry?

Nou rondom menseverhoudinge werk dit bykans net so. Vir my is daar 3 tipes belewingsvelde mondom menseverhoudinge. Ek praat oor verhoudinge omdat verhoudinge nou ’n fenominale rol speel.

Die 3 kategorieë klink vir my so: Sommige mense is ver, ander naby, en ander Jetsetters.

Ver mense het ’n behoefte om naby te wees, maar voel altyd ver, omdat daar een of ander blokkasie is – ’n mate van oorsensitiwiteit wat hul altyd verwyder laat voel van die verhoudinge wat hul begeer. En om een of ander rede voel hulle dan vir jou ook ver. My swaer gebruik altyd die volgende uitdrukking: “Julle Jel net nie.” Hulle is nou die ouens wat die broodjies help pak net soos jy daarvan hou, maar wanneer die motor start dan het hulle vir almal vertel hulle hou nie van die sous nie.

Dan kry jy die Jetsetters. Iemand wat baie vlieg word ’n Jetsetter genoem. Maandag-oggende baie vroeg sien jy hulle op die lughawe op pad vanaf Kaapstad na Johannesburg. Hierdie kategorie is vinnig ver, en vinnig naby. Hulle sal die broodjies help pak net soos jy dit doen, maar wanneer die motor start dan het hulle gevlieg.

Dan kry jy die naby mense. Hulle hoor jy gaan ry, hulle wil saam, hulle help ook om buns te maak en die hele rigmarole, hulle klim in en ry saam, eet saam... Die bun ding val nie eintlik in hulle smaak nie, maar hulle eet saam en geniet dit omdat jy dit geniet. Julle is verskillend maar geniet mekaar se andersheid. Jy vul my aan, en jy laat toe dat ek jou aanvul. Hierdie is mense wat geleer het dat anderswees eintlik “oraait" is. Ons nabywees word gebou met ons harte, en nie met ons ooreenkomstige sieninge en geaardhede nie: Ek is anders as jy en jy is vir my naby omdat ek jou andersheid geniet.

Kyk Enrique is anders. Hy het die vermoë om altyd ’n vraag agter alles te sit en te kyk hoe hy dit vir almal interessant kan maak. Sy grootste mikpunt was altyd: Hoe kan ek dit reg kry dat jy God wil dien op ’n praktiese verstaanbare manier? Die wat naby is aanvaar hom so. Sy andersheid het dié wat wou naby wees, nog nader getrek. Ek kon sien hulle het baie maal kopgeskud, maar hulle is naby. Hy is ’n naby mens en hou van mense, is lief vir tieners, versot op kinders. Hy praat altyd van die kerk kinders as “my kinders” en het altyd gesê: "Ons hoef nie nog kinders te kry nie, ons het baie kinders." Vir elk is daar ’n troetelnaam.

Sy hartseer is dat hy ander kinders kon leer maar nou nie sy eie sal kan leer nie.

Het jy geweet?

Enrique het 20 jaar gebid vir Aneleh, en Suné was ’n bonus uit die hemel.

Hy het ook altyd gesê: “Die lewe is te kort vir slegte kos en slegte koffie”. En geweier om een van die twee te doen.



Groete
Leana

Tuesday, October 21, 2008

Interim update

Enrique se toestand het sedert Leana se vorige "post" nie veel verander nie.

Leana is op die oomblik baie moeg en het daarom nog nie haar gereelde update opgestel nie. Sy sal weer 'n update gee sodra sy bietjie gerus het.

Sunday, October 19, 2008

Groet

Fisiese welstand

Die afgelope 2 dae is die morfien twee maal gelig, ons staan nou op 5. Daar is van tyd tot tyd inwendige bloeding. Swelling word al hoe meer, maar niks is buite beheer nie. Baie meer slaperig, praat glad nie meer met my terug nie, maak sy oë oop en herken my. Lig soms sy hand op sodat ek dit moet vashou. Oor die algemeen rustig en voel geen ongemak nie.

Sy chirurg, die dierbare mens wat hy is, besoek hom daagliks 2 maal. Ek dink hy is so ’n bietjie betrokke, as jy weet wat ek bedoel. Ek het hom uitgevang, hy berei homself voor oor wat hy vir Enrique gaan sê. Ek verstaan, want wat moet ’n mens nou sê nadat jy als probeer het. Hy hoef dit nie te doen nie. Maar die aangename mens wat hy is, betoon hy tog daardie ongelooflike menslikheid wat jou laat voel: “Ek het saam met jou gestap tot hier, maar ek sal nie jou hand los nie” – sommer net ’n algemene gevoel van veiligheid.

Geestelik

Ons lees so ’n bietjie minder, maar as ek by hom sit, bid ek spontaan. Die Heilige Gees is tasbaar rondom ons; baie sag. Ek het vanaand vir Hom gevra of hy nie einde wil gee nie, of dit genesing of sterfte is. Klink gevaarlik. Maar naby Hom hou dit nie ’n bedreiging in nie. Ons is in die fase van groet.

Hartsake

So gepraat van groet. Onthou jy toe jy ’n kind was was daar die gegroetery. Ek weet nie van jou nie, maar ons lot het altyd hierdie familie-samekomste gehad. Ons het nog daar in die Transvaal gewoon, en as my tannie-hulle van die Kaap af kom kuier, was daar geëet, en geëet en weer geëet, en die geselsies het geduur tot ounag toe. Ai, maar wanneer die kuiertjie einde se kant toe staan, het daar so ’n heimwee in jou hart gekom, so tussen die Enos geslukkery en die oormoeg gevoel was die atmosfeer gevul met ’n ligte gedemptheid, en word daar ’n paar laaste grappies nog by die motor vertel terwyl die kinders “Last touch" speel en die ruite van pure uitbundigheid oop en toe draai. Die motors vertrek, en jy staar hulle agterna, so ietwat verlate, met ’n gevoel van dit-was-sommer-net-lekker. Kan ook nie eers onthou wie uiteindelik laaste “getouch” was nie.

Maar daar is iets omtrent ’n gegroetery. Dit is eintlik vir my ’n warboel van emosie en ervaring, jy weet nie of dit lekker of sleg is nie. Maar dit laat jou toe om net vir ’n oomblik te stop. Gelukkig bly jy nie altyd in hierdie toestand nie, maar jy het hierdie warm gevoel van "ek behoort, ek is deel van hierdie mense en hulle is deel van my."

Daar is ’n groot verskil tussen die woorde "begroet" en "groet." Wat is die verskil – die “b” en die “e”? Jy kan die een nie doen voordat jy nie die ander een gedoen het nie. Twee verskillende aksies, een kom en die ander een gaan.

By ons was daar eers die begroeting, ek praat nou net van die twee kleintjies, omdat ek op pad is na ’n punt toe hier. Lerique is saam met my in ’n ander kategorie.
Begroeting die afgelope tyd het om en by so gelyk:


Maar gister het ek die ou twee kleintjies laat kom om te kom groet, daar was ’n pyn in my hart, omdat hulle nog nie eers die groetgevoel en die intensiteit daarvan kan ervaar nie. Hulle weet nie eers wat hulle doen nie, maar ek weet.

Sissa Suné het slapend in haar stoeltjie hier aangekom en sussie Aneleh al hoppend en met ’n groot jolyt. Later het Sunétjie wakker geword en met sonnetjie ogies na haar pappa gekyk. Aneleh het ouder gewoonte saam met pappa in die bed gekruip en beveel: “Maak koe maak koe”. Toe dit groettyd word, was Sunétjie nog steeds sonnetjie ogies, maar Aneleh het aanhoudend gese: “Tatta pappa! Tatta pappa! Tatta!” En ek weet Aneleh, jy voel dit nie nou nie, maar die gat in ons harte is onherroeplik groot. “Tatta Aneleh; tatta Sissatjie” wys die hand wat liggies terug waai. En toe weet ek nie wat om te voel nie.


So het hy ook baie dinge die afgelope tyd gegroet, eers sy kampe waarvoor hy so lief was, om met die jong mense te werk. Sy werk. Dinge buite die huis, later die huis, en vir ’n lang tyd het hy net in die kamer gewoon. Die dag toe ek hom hospitaal toe gebring het, het hy deur die huis geloop en in elke kind se kamer ingeloop en vreeslik gehuil Hy moes ’n klomp dinge groet, verantwoordelikhede rondom ons; sy versorging. Die swaarste vir hom was sy liggaamskrag en om te kan eet.

Gister het ek ’n groet briefie gekry van een van die jong mense, dit het my so geraak dat ek dit met toestemming graag vir julle wil wys.

Beste Enrique, Leana & gesin

Hoe begin mens 'n brief.....begin jy met, Hi hoe gaan dit......of begin mense net.....?
Ek wil by die begin, begin.

Dit was 'n Desember vakansie, en my Ma-hulle het 'n papiertjie in die posbus gekry van die EG Kerk wat 'n reeks oor Openbaring hou. Hulle het gegaan en van die kerk gehou. Daar is toe 'n besluit gemaak dat ons as gesin van die NG Kerk na die EG Kerk gaan verskuif.

Soos gewoonlik was Evette nie baie beindruk met die besluit nie, omdat ek so moeilik aanpas. Januarie het gekom en ons is na die EG Kerk. Ek wou eers nie ingaan nie, was bang, maar daardie jaar het 'n jong predikant en sy vrou hul prakties daar gedoen. Hulle name: Ds. Enrique en sy vrou Leana.

Hulle het my dadelik ingetrek en laat welkom voel. EK het hulle jong seuntjie, Lerique, ook later ontmoet. My lewe het daardie dag verander!

Soos ek vandag hier sit en die brief skryf/tik besef ek dit al hoe meer, dat dit die Wil van God was dat ek daardie predikantsgesin moes ontmoet het! My hele lewe het verander!!

Die jare het aangeloop en ons het ouer en hopelik wyser geword...

Vandat ek die nuus gehoor het dat jy (Enrique) kanker het, het ek nog nie kom hallo sê, of laat weet dat ek ELKE dag vir julle as gesin bid nie! Om eerlik te wees, ek dink ek was bang. Maar is nie meer nie!

Wat ek eintlik wil sê is BAIE DANKIE vir alles wat julle vir my gedoen het!!!! Julle het my hele lewe verander! Julle was/is God se mondstukke in my lewe!

Wat die toekoms inhou, weet ons nie, maar wat ek wel weet, is dat julle almal, die hele gesin, altyd in my hart sal wees!!!

Enrique, Leana; julle was/is my geestelike ouers! En Lerique, jy is soos die boetie wat ek nooit gehad het of ooit weer sal hê nie.

Baie dankie vir alles!!!

Mag God jul as gesin seen, en mag Sy wil geskied.

Baie liefde
Evette de Klerk
TATTA PAPPA; TATTA. TATTA JULLE

Leana

Thursday, October 16, 2008

Hospitaalnuus

Enrique se dae varieer tussen glad nie wakker met net nou en dan oë oop maak of glad nie wakker en oë vir 3 min oop maak. Sy pyn is heeltemal onder beheer danksy die flinke hospitaal personeel.

Daar is egalige swelling rondom sy buik area. Hy voel rustig, maar kan geen vloeistof of enige vorm van voedsel inneem nie. Hy is liggaamlik baie swak. Die morfien is nog dieselfde as voorheen; hy kry steeds iets vir naarheid. Vir my bly hy altyd mooi, en heerlik om te versorg. Daar heers 'n totale gevoel van sagtheid rondom hom.

Algemene nuus die afgelope 2 dae

Enrique se jongste broer het kom kuier van Middelburg. Wat 'n heerlike tyd het ons nou nie gehad daar rondom sy bed nie. Snaaks, 'n mens dink altyd dat rondom 'n siekbed alles en almal morbied en depressief is - ons het rondom hom gekuier, gelag en gesels. My algemene gevoel is: Waarom nou anders wees terwyl hy die lewe so spontaan beleef het en borrelende emosies in baie mense se lewens laat uitbruis het. Dit was natuurlik met sy toestemming ('n thumbs up gebaar met die duim) dat dit aanvaarbaar is.

Enrique en sy broers het sulke uiteenlopende geaardhede, maar die meeste van die tyd skerts hulle met mekaar juis oor hul andersheid.

Gister en vandag het Sunetjie twee onderste tandjies gesny. Sy en Aneleh bly by ouma en oupa.

Ek het gisteraand gou huis toe gegaan en al my goed gaan haal en saam met hom in die hospitaalkamer ingetrek. Ek bly nou saam met hom. Dit was op sy aandrang. Ek dink hy voel meer veilig. Ons sou hom aanvanklik huis toe geneem het, maar ons het dit uitgemaak dat ons eerder in hospitaal gaan bly omdat die versorging en geriewe die heel beste is

Hoe ons geestelik daar uitsien

Enrique het nie meer krag en energie om te lees nie. Ek en hy het besluit om die psalms van agter af te lees deur 3 maal per dag stiltetyd te hou. Ek lees en bid vir ons, en ons maak ook gebruik van geestelike musiek tydens ons aanbidding. Vandag het ons Ps 146 en 145 gelees en vanaand afgesluit met 144. As u dit goed dink om dit saam met ons te doen is dit baie welkom. Dit is vir ons 'n geweldige seen. Ons sou verkies dat lewensmaats probeer om dit hier en daar saam te doen so ver dit moontlik is, andersings kan julle een saam doen en die ander alleen. Maar ons wil u graag uitnooi om saam met ons die Here te soek.

Ons siening is dat dit God se wil is dat hy tot dusver 'n sterwenspad loop, maar ons gebed is gevul met die begeerte dat God in sy Goddelike genade tog Sy wil sal verander en ons sal begenadig. Ons is wel versigtig dat ons nie God sal manipuleer met die gedagte van "ons bid 3 keer" of dat die gedagte aangaande genesing rondom die siekte alles oorheersend moet wees nie, maar dat die fokus sal val op die wil van God wat Hy in sy groot Alwysheid in ons guns kan laat val.

Ons is teer bewus van die Heilige Gees, en geweldig versigtig om nie Sy teenwoordigheid binne te storm en voorstelle van genesing links en reg af te dwing nie, maar diep nederig uitgelewer aan Sy ontsaglike Goddelike genade, en ons staan pleitend met 'n oop gemoed voor Hom.

Ons glo steeds dat God die gewer is van alle goeie gawes.

Nou iets op ligter luim

Ek neem vrymoedigheid om die volgende te doen. Nie omdat ek ligsinnig is nie, maar seker omdat Enrique se lewe altyd 'n lewe was van opwinding en verrassings. Ver mense het hom altyd verkeerd geinterpreteer, maar naby mense het met groot vreugde sy energie geabsorbeer en was deel daarvan. Daarom wil ek met groot vrymoedigheid 'n paar interessanthede wat u nie geweet het nie rondom hom kwyt raak.

Het jy geweet?

Hy het geweier om aan my verloof te raak voordat die eerste reens nie geval het nie, omdat reen altyd vir hom 'n teken was dat hy die regte ding doen. Ek het eers gedink hy maak 'n grap, maar glo my ek moes toe wag vir die reen. Hy was nie bygelowig nie - as jy sou wonder. Vandat ek met hom getroud is is alle uitsonderlike besluite wat ons moes neem altyd deur gebed en reen voorafgegaan (scary, but it's true). Wel, God en Noag het dit gedoen!



Kan u glo dat ons 18 jaar gelede vir my verloofring en trouring R2000 betaal het en dit afbetaal het teen R125 per maand? Dit was baie geld vir toe, en nou is dit niks.

'n Laaste ding

Ek het vandag deur al ons fotos begin gaan en toe kom ek op hierdie foto af. Dit kom nou daarvan as jy met jongmense werk. Die foto is geneem op 'n stranddiens uitreik.

WAT SOU JY Sê IS VERKEERD MET HIERDIE FOTO?

(Ek wonder wat het daardie seun gedink) "Jiggie"?

Nou ja, ons sal weer verdere nuus gee oor 2 dae. Weer eens dankie vir gebede en bemoediging. Ons ervaar werklik die krag van jou gebed, ons het nie moed verloor nie. Hy se mos, Hy is die lelie van die dale.

Groete

Leana

Donderdagoggend 16 Okt

Enrique het 'n redelik rustige nag gehad. Hy was vanoggend bietjie wakkerder, en kon met sy broer gesels.

Leana sal vanaand weer 'n volledige update doen.

Gebruik gerus die "comment" funksie - ons sal sorg dat die familie die boodskappe kry.

Tuesday, October 14, 2008

Hospitaalnuus 13 en 14 Oktober

Hallo vriende, wil net graag vir julle doopfototjies wys van verlede sondag met Suné se doop.


Ons het ook gister vir 'n oomblik almal bymekaar laat kom. Die tydsberekening moes baie goed gewees het: Almal moes genoeg geslaap het en ons moes dit so werk dat die kinders uitgerus was, Enrique nie slaperig was nie en die fotograaf betyds is. So het ons dan 'n kosbare oomblik vasgevang. Kyk maar vir julleself.


Nuus oor Enrique se welstand

Aangesien dokters nie die stent Vrydag kon ingesit het nie, kan Enrique geen vloeistof of voedsel inneem nie. Die kanker veroorsaak alderhande obstruksies. Tans het hy 'n drip op, morfien wat by die oomblik vermeerder sal word soos wat die pyn toeneem en ook medikasie vir naarheid. Enrique is op hierdie stadium sterwend, maar elke nou en dan maak hy sy oë oop en vra hy my of dit al gebeur het. Dan vra ek "Wat?" waarop hy dan antwoord: "Het die wonderwerk al plaasgevind?" Julle ken hom mos, altyd vol hoop en passievol vir dit wat God kan doen.


Wat 'n wonderlike pasiënt is hy nie. Dit is vir my soms moeilik om te verstaan hoe sy verstand niks makeer, maar dat sy liggaam so broos kan wees en hom so verskriklik in die steek kan laat.

Op die stadium maak hy net sy oë bietjie oop en slaap die heel tyd. So hy praat nie eintlik nie.

Gebedsversoek

Sal julle asb vir ons die Here dank vir die omstandighede, klink nou vreemd. Maar in dit alles lê die skoonheid van dit wat God besig is om in ons lewens te transformeer. En in vele ander sien ek die Gees van God werk. Maar ek bid gereeld dat hy in Sy groot Goddelike wil tog Sy weg wil oopsien om dit te verander. Ek weet dat Hy gedagtes van vrede en goedheid oor ons het, en daarom weet ek dat hierdie omstandighede goed en vredevol vir Hom rakende ons is. Die vertroosting van die Heilige Gees is in sy Godheid diep teenwoordig en ek weet Hy is in beheer.


Versoek

Ek dank julle vir volgehoue gebed en bemoediging. Jammer ek kan nie almal terug laat weet nie, daarom het ons besluit op dié manier van kommunikasie. Ek is nooit by die huis nie en Enrique kan nie meer sy foon gebruik nie. Ek vra ook mooi dat u nie sal besoek by hospitaal nie, nie omdat ek of hy u nie daar wil hê nie, maar tyd is so min. Elke woordjie is getel want as
God nie anders besluit nie sal Enrique se stem stil word - sy bekende aanraking vir ons as gesin en ons probeer om alles vas te vang. Ons waardeer alles wat julle vir ons doen en dankie dat julle in jul liefde ons hande hoog hou.

Baie liefde

Leana
Namens Enrique, Lerique, Aneleh en Sunetjie




Monday, October 13, 2008