Sunday, October 19, 2008

Groet

Fisiese welstand

Die afgelope 2 dae is die morfien twee maal gelig, ons staan nou op 5. Daar is van tyd tot tyd inwendige bloeding. Swelling word al hoe meer, maar niks is buite beheer nie. Baie meer slaperig, praat glad nie meer met my terug nie, maak sy oë oop en herken my. Lig soms sy hand op sodat ek dit moet vashou. Oor die algemeen rustig en voel geen ongemak nie.

Sy chirurg, die dierbare mens wat hy is, besoek hom daagliks 2 maal. Ek dink hy is so ’n bietjie betrokke, as jy weet wat ek bedoel. Ek het hom uitgevang, hy berei homself voor oor wat hy vir Enrique gaan sê. Ek verstaan, want wat moet ’n mens nou sê nadat jy als probeer het. Hy hoef dit nie te doen nie. Maar die aangename mens wat hy is, betoon hy tog daardie ongelooflike menslikheid wat jou laat voel: “Ek het saam met jou gestap tot hier, maar ek sal nie jou hand los nie” – sommer net ’n algemene gevoel van veiligheid.

Geestelik

Ons lees so ’n bietjie minder, maar as ek by hom sit, bid ek spontaan. Die Heilige Gees is tasbaar rondom ons; baie sag. Ek het vanaand vir Hom gevra of hy nie einde wil gee nie, of dit genesing of sterfte is. Klink gevaarlik. Maar naby Hom hou dit nie ’n bedreiging in nie. Ons is in die fase van groet.

Hartsake

So gepraat van groet. Onthou jy toe jy ’n kind was was daar die gegroetery. Ek weet nie van jou nie, maar ons lot het altyd hierdie familie-samekomste gehad. Ons het nog daar in die Transvaal gewoon, en as my tannie-hulle van die Kaap af kom kuier, was daar geëet, en geëet en weer geëet, en die geselsies het geduur tot ounag toe. Ai, maar wanneer die kuiertjie einde se kant toe staan, het daar so ’n heimwee in jou hart gekom, so tussen die Enos geslukkery en die oormoeg gevoel was die atmosfeer gevul met ’n ligte gedemptheid, en word daar ’n paar laaste grappies nog by die motor vertel terwyl die kinders “Last touch" speel en die ruite van pure uitbundigheid oop en toe draai. Die motors vertrek, en jy staar hulle agterna, so ietwat verlate, met ’n gevoel van dit-was-sommer-net-lekker. Kan ook nie eers onthou wie uiteindelik laaste “getouch” was nie.

Maar daar is iets omtrent ’n gegroetery. Dit is eintlik vir my ’n warboel van emosie en ervaring, jy weet nie of dit lekker of sleg is nie. Maar dit laat jou toe om net vir ’n oomblik te stop. Gelukkig bly jy nie altyd in hierdie toestand nie, maar jy het hierdie warm gevoel van "ek behoort, ek is deel van hierdie mense en hulle is deel van my."

Daar is ’n groot verskil tussen die woorde "begroet" en "groet." Wat is die verskil – die “b” en die “e”? Jy kan die een nie doen voordat jy nie die ander een gedoen het nie. Twee verskillende aksies, een kom en die ander een gaan.

By ons was daar eers die begroeting, ek praat nou net van die twee kleintjies, omdat ek op pad is na ’n punt toe hier. Lerique is saam met my in ’n ander kategorie.
Begroeting die afgelope tyd het om en by so gelyk:


Maar gister het ek die ou twee kleintjies laat kom om te kom groet, daar was ’n pyn in my hart, omdat hulle nog nie eers die groetgevoel en die intensiteit daarvan kan ervaar nie. Hulle weet nie eers wat hulle doen nie, maar ek weet.

Sissa Suné het slapend in haar stoeltjie hier aangekom en sussie Aneleh al hoppend en met ’n groot jolyt. Later het Sunétjie wakker geword en met sonnetjie ogies na haar pappa gekyk. Aneleh het ouder gewoonte saam met pappa in die bed gekruip en beveel: “Maak koe maak koe”. Toe dit groettyd word, was Sunétjie nog steeds sonnetjie ogies, maar Aneleh het aanhoudend gese: “Tatta pappa! Tatta pappa! Tatta!” En ek weet Aneleh, jy voel dit nie nou nie, maar die gat in ons harte is onherroeplik groot. “Tatta Aneleh; tatta Sissatjie” wys die hand wat liggies terug waai. En toe weet ek nie wat om te voel nie.


So het hy ook baie dinge die afgelope tyd gegroet, eers sy kampe waarvoor hy so lief was, om met die jong mense te werk. Sy werk. Dinge buite die huis, later die huis, en vir ’n lang tyd het hy net in die kamer gewoon. Die dag toe ek hom hospitaal toe gebring het, het hy deur die huis geloop en in elke kind se kamer ingeloop en vreeslik gehuil Hy moes ’n klomp dinge groet, verantwoordelikhede rondom ons; sy versorging. Die swaarste vir hom was sy liggaamskrag en om te kan eet.

Gister het ek ’n groet briefie gekry van een van die jong mense, dit het my so geraak dat ek dit met toestemming graag vir julle wil wys.

Beste Enrique, Leana & gesin

Hoe begin mens 'n brief.....begin jy met, Hi hoe gaan dit......of begin mense net.....?
Ek wil by die begin, begin.

Dit was 'n Desember vakansie, en my Ma-hulle het 'n papiertjie in die posbus gekry van die EG Kerk wat 'n reeks oor Openbaring hou. Hulle het gegaan en van die kerk gehou. Daar is toe 'n besluit gemaak dat ons as gesin van die NG Kerk na die EG Kerk gaan verskuif.

Soos gewoonlik was Evette nie baie beindruk met die besluit nie, omdat ek so moeilik aanpas. Januarie het gekom en ons is na die EG Kerk. Ek wou eers nie ingaan nie, was bang, maar daardie jaar het 'n jong predikant en sy vrou hul prakties daar gedoen. Hulle name: Ds. Enrique en sy vrou Leana.

Hulle het my dadelik ingetrek en laat welkom voel. EK het hulle jong seuntjie, Lerique, ook later ontmoet. My lewe het daardie dag verander!

Soos ek vandag hier sit en die brief skryf/tik besef ek dit al hoe meer, dat dit die Wil van God was dat ek daardie predikantsgesin moes ontmoet het! My hele lewe het verander!!

Die jare het aangeloop en ons het ouer en hopelik wyser geword...

Vandat ek die nuus gehoor het dat jy (Enrique) kanker het, het ek nog nie kom hallo sê, of laat weet dat ek ELKE dag vir julle as gesin bid nie! Om eerlik te wees, ek dink ek was bang. Maar is nie meer nie!

Wat ek eintlik wil sê is BAIE DANKIE vir alles wat julle vir my gedoen het!!!! Julle het my hele lewe verander! Julle was/is God se mondstukke in my lewe!

Wat die toekoms inhou, weet ons nie, maar wat ek wel weet, is dat julle almal, die hele gesin, altyd in my hart sal wees!!!

Enrique, Leana; julle was/is my geestelike ouers! En Lerique, jy is soos die boetie wat ek nooit gehad het of ooit weer sal hê nie.

Baie dankie vir alles!!!

Mag God jul as gesin seen, en mag Sy wil geskied.

Baie liefde
Evette de Klerk
TATTA PAPPA; TATTA. TATTA JULLE

Leana

5 comments:

Wollie en Nellie said...

Liewe Enrique, Leana, Lerique, Anéleh & Suné

Jesus sê,
“Dit het Ek vir julle gesê,
dat My blydskap in julle kan bly en
julle blydskap volkome kan word.”
Johannes 15:11

Enrique, baie dankie vir die voorreg dat ons jou kan ken as herder en vriend. Jy is ‘n voorbeeld vir almal van ons oor hoe ‘n Christen behoort op te tree in die moeilikste van omstandighede. Ons dank God vir jou lewe en die wyse waarop jy ons lewens aanraak.
Ons dank God dat hy vir jou so ‘n wyse vrou soos Leana geskenk het. Sy is waarlik vir ons ‘n inspirasie. Haar vertroue op God en kalmte tref ons voortdurend.
Ons gebed vir julle is 2 Kor 12:9:
Jesus sê vir Paulus,

“My genade is vir jou genoeg,
want My krag word in swakheid volbring.”
Liefde.
Ouma Soekie Neveling (Nellie se Ma)
Wollie & Nellie Wolmarans

De Klerk Family said...

Leana,

Gee asb. vir Enrique 'n drukkie en 'n kus op sy voorkop van ons af. Ons is nog nie reg om te groet nie, wie is?

Ons gebed vir julle vandag is:

Hy het hulle op die regte pad gebring [ en so ook vir elkeen van ons - prys God vir Sy Groot Genade].

“Hy het sy volk [SY KINDERS] in die woestyn gevind, in ’n onbewoonbare land waar woestyndiere skreeu. Die Here het sy volk omhels, hom vertroetel en versorg soos die appel van sy oog.

Soos ’n arend wat sy kleintjies uit die nes uitskop, oor hulle fladder en hulle vang op sy vlerke wat hy oopsprei, soos ’n arend wat sy kuikens op sy vlerke dra, so het die Here, net Hy alleen, sy volk gelei.”– Ook tot in julle ouderdom is Ek die Here, tot in julle grysheid sal Ek julle dra [ jy sal nooit alleen wees nie].

Ek het julle gemaak en Ek sal julle vashou, julle dra en julle red.

Hy gee my nuwe krag. Hy lei my op die regte paaie tot die eer van sy Naam. Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig.

Die Here sal jou altyddeur lei; selfs in dor streke sal Hy in jou behoeftes voorsien. Hy sal jou sterk maak.

Jy sal wees soos ’n tuin met volop water, soos ’n fontein waarvan die water nie opdroog nie. – “Dié God is ons God vir altyd; Hy sal ons altyd lei. Wie kan ’n mens tot insig bring soos Hy?”

Die mag van God is groot, wie kan ’n mens tot insig bring soos Hy?

Ps 107:7. Deut 32:10-12.–Jes 46:4. Ps 23:3-4. Jes 58:11.–Ps 48:14. Job 36:22 (Die Bybelteksdagboek)

Ons harte is seer, maar ons weet ook dat daar 'n nalatenskap is wat kosbaarder is as die verganklike vlees: Lerique is 'n pragtige jong man, julle twee dogtertjies is kosbare prinsessies, julle werk het menigte mense se lewens verander, julle liefde het vele harte versag, julle toegeneetheid het baie tot God laat nader, julle lewens wandel is 'n bron van inspirasie en krag vir almal! Wat 'n wonderlike getuienis!

As jy daar is om te groet, sal ons met jou wees in die gees. Mag God ons almal styf teen Sy Bors vasdruk!

Rom 8:14-18 Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God. Want julle het nie ontvang ‘n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader! Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is; en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word. Want ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie.

Psa 43:3-6 Stuur u lig en u waarheid; laat dié my lei; laat dié my bring na u heilige berg en na u woninge, dat ek kan ingaan na die altaar van God, na die God van my jubelende blydskap en U kan loof met die siter, o God, my God!

Wat buig jy jou neer, o my siel, en wat is jy onrustig in my? Hoop op God, want ek sal Hom nog loof — die verlossing van my aangesig en my God!

Psa 19:14/5 Laat die woorde van my mond en die oordenking van my hart welbehaaglik wees voor u aangesig, o HERE, my rots en my verlosser!

Phm 1:25 Die genade van onse Here Jesus Christus sy met julle gees! Amen.

Lizette

elsabe said...

Liewe Enrique,Leana en kinders

As ons moet groet sal dit met "n seë van trane wees oor die blydskap wat ons het om julle te ken. Dankie vir julle voorbeeld in Christus. Deon Elsabe en Kinders

Wollie en Nellie said...

THE WEAVER
My life is but a weaving
Between my Lord and me.
I cannot choose the colours,
He worketh steadily.
Oft times He weaveth sorrow
And I in foolish pride,
Forget He sees the upper
And I the underside.
Not till the loom is silent
And the shuttles cease to ply,
Shall God unroll the canvas
And explain the reason why.
The dark threads are as needful
In the Weavers skilful Hand,
As the threads of gold and silver
In the pattern He has planned.

Lukas 12:6 Word vyf mossies nie vir twee stuiwers verkoop nie? En nie een van hulle is voor God vergeet nie.
Luk 12:7 Maar selfs die hare van julle hoof is almal getel. Wees dan nie bevrees nie: julle is meer werd as baie mossies.

Liewe Enrique, Leana & Kinders
Julle bly in ons gedagtes en gebede. Mag God julle Krag skenk.
Seën & Liefde.
Wollie & Nellie

Anonymous said...

THE WEAVER
My life is but a weaving
Between my Lord and me.
I cannot choose the colours,
He worketh steadily.
Oft times He weaveth sorrow
And I in foolish pride,
Forget He sees the upper
And I the underside.
Not till the loom is silent
And the shuttles cease to ply,
Shall God unroll the canvas
And explain the reason why.
The dark threads are as needful
In the Weavers skilful Hand,
As the threads of gold and silver
In the pattern He has planned.

Luk 12:6 Word vyf mossies nie vir twee stuiwers verkoop nie? En nie een van hulle is voor God vergeet nie.
Luk 12:7 Maar selfs die hare van julle hoof is almal getel. Wees dan nie bevrees nie: julle is meer werd as baie mossies.

Liewe Enrique, Leana & Kinders
Julle is in ons gedagtes en gebede. Mag God julle Krag skenk.
Liefde & Seën.
Wollie & Nellie