Wednesday, November 5, 2008

Materiaal

Fisiese welstand

Ek het voorheen gesê dit gaan nie goed nie, en ek het werklik nie geweet dit kan nog slegter gaan nie. Enrique praat glad nie: Is in die begin van ‘n ligte koma, is baie min wakker, maak net sy oë oop en toe. Maar hy is deeglik bewus van alles rondom hom. Morfien op 25 ml per uur. Sy vloeistof inname (dekstrose drip) is aansienlik afgebring agv die swelling.

Geestelik

Net stil. Ps. 40 is op dié stadium ons rots. Absolute vrede en rustigheid.

Die moderator, ds. Danie van Rensburg, het Dinsdag die 4de Nov vir ons kom kuier. Wat ‘n heerlike tyd het ons gehad met hom hier. Hy het ook iets waardevols met ons gedeel. Nadat ek vir hom genoem het dat ons die Heilige Gees hier ervaar het, het hy verwys na ‘n boek wat hy gelees het en gesê dat die hoof ding wat die Tempel besonders gemaak het nie die besonderse versiersels was, of die duur metale wat gebruik was nie, maar God se teenwoordigheid: En dit wat ons anders maak, is Sy teenwoordigheid. Hy het eintlik verwoord wat ons hier ervaar.

Materiaal

So ‘n rukkie gelede het ek ‘n interessante stuk materiaal by ‘n vriendin van my gekry. Haar man het dit van Indië af saamgebring. Maar, het ek nou gesukkel om vir hierdie lieflike stuk kunswerk ‘n nuttige plek te kry! Ek het dit oor die eetkamertafel gegooi, maar nee, iets is verkeerd; oor die bank, huh-oh; oor die badkamer gordynkap, maar tevergeefs. Nêrens wou hierdie stuk materiaal sy lêplek kry nie. Spoedig het die besef tot my deurgedring dat Indies en Afrikaans twee verskillende kulture is, elk met sy unieke smaak. Die twee sit glad nie langs dieselfde vuurtjie nie. Ons het toe amper ‘n krieket situasie hier, want ek weet toe nie meer of dit die Indiese kultuur is wat teen die Afrikaanse skreeu of andersom nie.

Die maak van materiale, asook invoer en uitvoer daarvan is reg oor die wêreld ‘n geweldige industrie. Die hele wêreld se oog is gekonsentreer op Europa – wat die ritme seisoen na seisoen hou met die mees modieuse, interessantste en soms potsierlikste uitrustings wat vroue verslawend deur glanstydskrifte laat blaai, impulsief na die klerewinkel dryf... Om maar net te besef dat ek nie hierdie lyf in daardie ou nommertjie kan maak pas nie.

Maar daar is materiaal wat nêrens op g'n mark te vinde is nie. Wat derduisende kos om te herstel. En wanneer dit kom by die instandhouding daarvan, menige vroue (en deesdae ook mans) aan die einde van elke maand platsak laat. Hierdie materiaal is beskikbaar in ‘n verskeidenheid van kleure. Dit is poreus en ongelooflik elasties. Sy “trade mark” is sy eie unike reuk. Ja, ek praat van niks anders nie as van die oorspronklike pakkie waarin ek en jy gebore is. Sommige noem dit ons Adamsgewaad. Ek noem dit sommer net my vel. Hierdie materiaal waarmee my en jou liggaam oorgetrek is, wat een van van die liggaam se 5 sintuie (jou tassintuig) bevat. Hierdie is die enigste materiaal wat gekoppel is aan ‘n brein en impulse kan ontvang van miljoene senu-eindpunte waardeur ‘n organisme soos die liggaam sy omgewing kan beleef. Man, dit is eenvoudig net WOW!

Maar ons is mos nie net ‘n liggaam nie, ek en jy het mos emosies ook. Soos iemand eendag kwytgeraak het: “Ek het mos ook ‘n binneste.” Deur aanraking word ons emosionele wêreld oorvloediglik gestimuleer. Bo en behalwe ander sensasies is die aanraking van iemand vir wie jy lief is ‘n onuitputlike bron van emosionele kompos. Dit voed jou tot in jou diepste wese, en dring jou om anderkant die grens van mensliewendheid op te tree. Dit dring jou om nie net een myl af te lê nie, maar duisende, nie net te beskerm nie, maar te omsingel, nie net te streel nie, maar te liefkoos en nie net aan te raak nie, maar te genees.

Wat is dit met aanraking, ‘n fisiese belewenis wat die siel aantas?

En dit het, gister en nou, want ek raak aan jou wat ek heel eerste liefgekry het. Die pyn van hierdie siekte het in fyn plooitjies op jou voorkop geskryf. Jou vel is ietwat droog. Ek buk af en soen jou. Jy ruik vir my soos jy, maar 'n bietjie medikasie, 'n bietjie hospitaal het ‘n stukkie van jou gesteel. Ek druk my lippe op jou voorkop. Dis effens koel en die volheid van my hart drup een klein druppeltjie op jou voorkop. "Ek is lief vir jou, jy weet dit" fluister ek, en jy knik jou kop stadig. Ek is jammer........ toemaar, ek is hier by jou. Ek vat aan jou hand, dis geswel, sag en warm. "As jy sleg voel... druk my hand" en jy druk liggies. Ek sug: “Ai.”

Ek het vir die kinders gaan kuier, en toe ek by my skoonouers se huis aankom het beide geslaap.

Ek het stil ingegaan by die eerste kamer. Jy lê op die dubbelbed. Die kamer is skemer en rustig, jy is wit, ligte pienk wangetjies, en jou mondjie maak impulsief suigbeweginkies. Ek klim saggies langs jou in en krul my op terwyl jou babalyfie teen my lê, die goue rooi haartjies is fyntjies, ek druk ‘n soentjie op jou koppie, dis donsig teer en klam, ek raak aan jou balletjie vuisie, 5 volmaakte duikies op die engeltjie handjie..........dis jy....... Sunétjie. Die sleutel gly, die slot draai, my hartkamer skuif oop, die intensiteit vir hierdie baba kind vloei.

Ek beweeg laer af na my volgende een. Sagte snorkgeluitjies vul die kamer. Jy lê op jou sytjie, koppie agteroor. My knie druk op die grond, die komberse teen my lyf, met my wysvinger skuif ek die krulletjie van jou voorkoppie weg, jy kriewel, my lippe streel jou wang, dis sag en blosend, jou mondjie ruik soet... Die sleutel, die slot, my hart, hoe dan anders?

Ek raak aan julle en julle raak my aan, hoe is dit moontlik sonder een van julle? Wie het die keuse gemaak? Wie het die toestemming gegee? Sou ek saamstem? Sou ek weerstand bied? Sou ek aanvaar?

Wat sou ek? ........... Ek weet nie........... Wat sou jy?

7 comments:

Anonymous said...

Liewe Enrique & gesin. Ons bid vir julle en weet dat God nie slaap nie. Liefde Willem (Taste&See)

Wendy said...

Hello Enrique en Leana

Ons as gesin bid vir julle. 'n Mens kan nie indink wat ander mense moet deur hierdie lewe maak. Ek het hierdie afgelope tyd besef dat sonder die krag van die Here, kan jy nie deur 'n krisis kom nie.

Ons dink aan julle altyd. Julle is in ons gebedes en gedagtes.

Liefde groete
Jaco en Wendy du Plessis

Wollie en Nellie said...

Psalm 146 vers 3
Salig hy wat in die lewe,
sonderhulp en sonder raad,
as hom alles wil begewe,
vlug tot God, sy toeverlaat;
en ook in die swartste nag
op die Heer alleen bly wag.
Liewe Leana, Enrique & Kinders
Ons bid jul God se Krag en Sterkte.
Liefde.
Wollie & Nellie

Anonymous said...

Hallo Leana,

Julle dra jul kruis dapper..

Ek is stil.
Ons los julle by Yaweh Yirreh- The Lord Who sees and Who provides.

Lindie

Anonymous said...

Leana

Hier is 'n drukkie spesiaal vir jou ((( )))

Alida

Carmen said...
This comment has been removed by the author.
Anonymous said...

Liewe Leana,

Enrique is by Jesus. Ons is nog saam met jou en jou liewe kinders hier op aarde en wil graag saam met julle verder lewe tot jy en Enrique eendag weer herenig word in heerlikheid.

Hou ons asseblief op hoogte van jouself en die kinders hier op die blog, sodat jy nie tientalle vrae oor en oor hoef te antwoord nie ?

Baie liefde en seën vir julle, mag God deur Sy Gees die volmaakte Trooster en Leermester wees.

Baie liefde,
Alida