Wednesday, December 17, 2008

Suurstof

Suurstof is ‘n belangrike item in die voortbestaan van lewe op hierdie liewe planeet waarop ons leef.

Alles het dit nodig, van groen sprietjie tot die grootste walvis, die aggressiefste leeu tot die kleinste premature babatjie. Inteendeel, ons is so afhanklik daarvan dat die liewe Vader dit bestem het dat dit nie ‘n willekeurige aksie van "asem in" en "asem uit" is soos die gim instrukteurs ons die voorbeeld gee nie. Nee, dis ‘n onwillekeurige aksie wat die vinnigste atleet tot die siekste van siek in ‘n koma outomaties laat asemhaal sonder dat daarop besluit word. As dit afgehang het van geheue sou die mens nie kon onthou of die asem uitgeblaas is of ingetrek is nie.

Daar moet selfs met Suurstof rekening gehou word tydens die bestryding van wilde bosbrande of wanneer groot oliebore aan die brand is. Want sonder suurstof sou daar nie eers ‘n vonkie gewees het nie. Daar kan selfs onder water gesweis word – solank daar suurstof is. Dis om ons, in ons, deel van ons. Dis nodig, ek's afhanklik, dit kan nie verruil word nie. Onvervangbaar. Ons het ‘n orgaan wat spesiaal vervaardig is vir die opneem daarvan. Daar vind ‘n spesifieke biologiese aksie plaas waartydens die suurstof in ‘n gas vorm opgelos word in die longblasies, en dan sy weg in die bloedstroom vind sodat die hele liggaam daarby kan baat vind – merkwaardig sou ek sê.

Maar wanneer die liggaam een kuggie gee, die asem stadig uitblaas, stil lê, weer ‘n laaste sagte asemteug neem, en amper onhoorbaar uitblaas, die hartklop in die nek se ritme verstadig, die gees opvallend maar geruisloos van onder na bo uit die liggaam gly, en ek my hand op jou bors plaas, oorleun en sê: “Dit is goed......... dit is reg......... jy moet gaan,” die kerslig droomweg flikker, my hande oor jou oë gly...

Die stryd is verby, die siekte is oorwin, die wedloop is voleindig, die lint is gebreek. Vir die eerste keer in 6 maande draai ek my rug op jou, ek moet jou agterlaat, jy kan nie saam kom huis toe nie, nooit weer nie. My hande leeg. Dis eenuur die oggend, die nimmereindigende hospitaalgang hou nooit op nie. Ek stamp die hospitaaldeur oop, ek's buite, dis koud, dit reën, die skoot klap, my wedloop begin.

Ek het mos genoeg geoefen, of het ek? Ek is onbekend met hierdie wedloop. Ek was goed geoefen in vrou wees, eggenote wees. Wie is hierdie weduwee-mens waarna almal verwys, die verwarde een, wat vreemde gedrag openbaar, wat sukkel om te huil, wat onbekend is met haar omgewing, nie kan slaap nie? Sy wat met die dokument in die hand staan met hom waaroor daar getjap is “DECEASED.”

Met die dowwe val van die sand op die kis, verbrysel elke blom. Ses maande smyt ek in die gat af. “Hy is nie hier nie”...... “WAT VAN MY GOD!”


Wie gaan mond-tot-mond asemhaling doen dat hierdie siel weer kan asemhaal, kan suurstof opneem en lewe kry? Waar is die baan? Wie het die sneller getrek? Vir watter item is ek ingeskryf? Hoe moet ek wegspring? In watter rigting moet ek hardloop?

Ek het nie asem nie, my suurstof is weg.

IS... DAAR... IEMAND... WAT... SAL............ VERSTAAN?


Leana


9 comments:

Anonymous said...

Liewe Leana
Ek huil met elke woord wat jy skryf, vir jou. Jou pyn stap elke dag saam met my. Ek sien my baba,tjie en ek sien joune. Ek sien my tweejarige en ek sien joune. Ek sien my groot seun en ek sien joune. Al wat ek kan doen is huil en bid vir jou. Weet asb dat ek nie een oomblik vergeet om vir jou te bid nie.
Baie liefde
Linnie Lues

Nelia Germishuys said...

Liefste Leana

Ek het nie woorde nie, ek was so lief vir Enrique, hy was soos 'n pappa vir my, hy is nou weg en ek voel leeg en seer binne.

Ewald het sy begrafnis foto in 'n raam gesit in ons huis, maar ek het gister die foto uitgehaal, want ek kon nie meer nie, ja, ons gaan altyd vir Enrique onthou maar ek wil huil elke keer as ek die foto sien.

Hoeveel meer wil jy nie elke keer huil as jy enig iets sien nie, Die 2 ou dogtertjies, Lerique, jul huis, jul herinderinge.

Leana, ek dink aan jou en ek dink nie enige iemand sal verstaan hoe jy voel nie, net mense wat self deur is, wat jy nou deur gaan.

Ons is baie lief vir jou, daar is geen ander woorde nie, net 'n baie diep hartseer diep gat in my keel en hart.

Enrique, jy is 'n legend, en het so 'n groot verskil in my en soveel ander mense se lewens gemaak.

Dankie dat jy ons getrou het, ons sal jou ewig dankbaar wees. Almal praat nou nog oor hoe jou preek een van die nice'ste dinge op ons troue was..

Baie liefde...

Nelia en Ewald

Anonymous said...

Liewe Mev Matthee en familie
"Dag na dag dra Hy ons" - Hy sien hoe vlak julle hartseer nog lê - en mense wat soortgelyke smart deurgemaak het, kan vir u sê dit word makliker, maar dit gaan nooit weg nie.
Mag u en die kindertjies en al die naby-familie veral tydens hierdie Christusfees God se nabyheid en "drakrag" ondervind.
Ek wil graag u toestemming vra om 'n skakel te maak vanaf die webruimte "inmemoriam.co.za" na u "blogspot". Dit wat u geskryf het gedurende Dominee se siekte het baie harte geraak en vir sommige mense tot troos gedien. Indien u geneë is daarmee, sal ek dit waardeer indien u vir my 'n fototjie kan stuur na die e-posadres by bogenoemde webwerf.
Seëngroete
Elmarie Schultz

De Klerk Family said...

Dis ou kersaand hier in Kanada, en almal slaap al. Net ek nie. Ek dink aan jou...

...ek huil vir jou - vir julle, ek pyn saam met jou, ek wens ek kon iets doen!

Eensaamheid...tussen mense, is ERG!

Leana, gil dit uit, slaan die kussing, raak kwaad en opstandig...

God verstaan, ek is BAIE seker daarvan. Hy weet van jou, Hy sien jou stryd, Hy deel jou pyn! Daar is Iemand wat weet wat jy deurmaak. Net Hy kan help!

Dit is my troos, en ook joune. Dit is al Troos waaraan ons kan vasklou. Die lewe het my geleer mens kan nooit ten volle op mense vertrou nie, maar op God kan jy.

Ag liefste mensie, ek is so jammer dat jy hierdie beker moet ledig. More is Kersdag en weet verseker, dat my gedagtes en gebede nie ver van jou en die kinders af sal wees nie!

Ek bid jou God se vrede toe oor hierdie pynlike 'fees' seisoen.

Altyd... geseende familie samesyn. Moenie te sterk probeer staan nie. Die kinders mis hom ook, en dit is reg dat hulle sien jy verlang na hom, mis hom vreeslik, wens hy was nog by julle. Dit is al wat sin maak in julle bitter stryd teen die leegheid in julle harte en in julle huis. Mis hom tasbaar, voelbaar, en deel in mekaar se leed. Julle was gewoond om as gesin alles saam te doen, so mis hom saam. Ek glo dit sal julle almal help.

Geseende Kersfees, Leana, Lerique, Anele & Sune.

Met AL my liefde,

Lizette

Anonymous said...

Liefste vriendin,

Hier waar ek vanaand sit en ek lees hierdie stukkie huil ek, en ek weet nie wat om vir jou te se nie, behalwe dat ek so wens dat ek by jou is om vir jou 'n stywe druk te gee. Nou kan ek jou net aan die Here opdra. Leanatjie, ons verstaan nie hoekom Enrique vooruit moes gaan nie, net Jesus weet, en al wat ek weet is dat hy pynvry is, en elke dag vanuit die Hemel vir jou en die kinders kan sien. Ek is vroeg volgende jaar weer in die Paarl vir 'n paar dae, en gaan jou laat weet, dan kom kuier ek, en ek hou jou styf vas, en jy mag maar huil tot dit heeltemal leeg is.

Liefdetjies

Annalie

Anonymous said...

Liewe Leana
Ons was bietjie weg vir 'n welverdiende blaaskans en ek het nou eers weer and gehad om op jou blog te gaan kyk of jy alweer iets geskryf het. Met elke woord wat jy skryf is jou pyn en hartseer daar en my hart breek vir jou. Hierdie pad wat jy nou loop kan mens nie eers probeer verstaan as jy dit nie al self geloop het nie. Ek bid vir jou en jou kinders. Dit moet vir julle verskriklik "leeg" wees sonder Enrique se stem, sy aansteeklike laggie en sy kwinkslae, sy bystand en sy leiding as hoof van jul gesin.

As jy voel of jy moet gil, doen dit, as jy vrae het, vra dit. Gaan deur hierdie proses en weet dat God ons dra as dit met ons op die slegste gaan.

Mag die Heilige Gees jou lei, die Seun jou omvou met Sy liefde en pappa Vader jou styf vashou.
Ons bid vir julle.

Baie liefde
Phillip en Ann van Eeden
Nelspruit

Anonymous said...

Liewe vriendin,

Ag, ek het nie woorde nie, dis so stil in my dis ongelooflik. Dis asof die stilte en leegheid van Enrique se afwesigheid alles oorheers as ek aan jou dink - dis so stil ! Ek weet niemand van ons kan ooit daardie stil, alleen ruimte vul of binnedring nie, maar weet dat jy gedra word in ons gebede, dat, al kan ek nooit weet presies hoe dit elke liewe oomblik vir jou moet voel om nou 'n alleen-wedstryd te hardloop nie, vir jou styf wil vashou en saam met jou huil oor die groot gemis, oor die onsekerheid en die groot taak van alleen-mamma-wees wat vir jou voorlê.
Moenie probeer om te gou te sterk probeer wees nie, jou ervaring is 'real' en dis goed vir jou om dit deur te werk.
Ons is baie lief vir jou.
Alida

De Klerk Family said...

Liefste Leana en gesin,

ek weet nie of julle nog die inskrywings op hierdie blog volg nie, maar gaan in elkgeval'n kort boodskappie vir julle hier los.

Die dae, weke en maande het aangestap, en steeds is julle in my gedagtes, is ek steeds besorg oor julle wel en wee.

Hoe gaan dit met julle? Wat doen julle? Waarheen lei julle lewenspaaie julle?

Ek vertrou dat die Here julle gedurigdeur onderskraag en bid julle Sy rykste seen toe, en bid vir julle, met al my liefde.

Julle vriendin in Christus,
Lizette

Anonymous said...

Die koninkryk van die hemele het naby gekom.
God het jou lief. Lees jou Bybel.